Alberton Erfenis: Alberton in die Media (inleiding)

 

Logo

Hoewel ons steeds sal voorgaan om oor die geskiedenis van die wye verskeidenheid kerke in Alberton te skryf soos ons dit verlede jaar gedoen het, wissel ons daardie geskiedenis af met die rol wat die media in die vroeëre jare in die geskiedenis van Alberton gespeel het.

Vanaf die dorp se ontstaan in 1904, moes Alberton in die plaaslike koerante vir aandag meeding met gevestigde dorpe soos Germiston en Boksburg. Dié dorpe het ook die oorgrote dele van die aandag van die joernaliste en redakteurs gekry.
Die East Rand Express is in 1898 net voor die Suid-Afrikaanse Oorlog deur William Hills gestig. Met sy agtergrond in die
perdewedrenbedryf in Oos-Londen, was die naaste aandag wat Hills aan Alberton gegee het, die Gosforth Park-renbaan
wat in 1899 tussen Germiston en die latere Alberton tot stand gebring is. Die East Rand Express het tot sy ondergang
in 1936 weinig Afrikaanse berigte geplaas. Intussen het Hills reeds in 1923 die Germiston Advocate gestig, omdat Germiston vanweë die ontwikkeling van die spoornetwerk, Boksburg in belangrikheid begin verbysteek het.

Hoewel Alberton by sy ontstaan bemark is as ’n voorstad van Germiston, was sy geïsoleerde ligging ’n struikelblok vir die joernaliste in Germiston. Vanweë die slegte toestand van die paaie, veral tydens die reënseisoen, was hulle redelik lugtig
om die hele pad vanuit die ‘beskawing’ na Alberton te reis om oor die dorpie tussen die rante berigte te kom skryf.
In 1950 het die Albertonners gepoog om die balans reg te stel deur hulle eie koerant te stig om op die dorp se nuus te fokus. Ongelukkig was die inkomste uit advertensies nie groot genoeg om die drukkoste te dek nie en die Herald het ná net drie uitgawes gesneuwel.

Nog tien jaar het verloop voordat die Alberton Courier daarin geslaag het om ’n koerant elke twee weke die lig te laat sien en
vir amper twintig jaar te verskyn. In 1972 het die Courier kompetisie van die Alberton & District Record gekry wat onder ’n verkorte naam steeds verskyn. In die 21ste eeu het die Tame Times ook sy stem tot plaaslike nuus bygevoeg. Vanaf ons dorp se eerste beskeie verskyning in die East Rand Express in Mei 1904 het Alberton sowel hoogte- as laagtepunte beleef.

Oor die volgende aantal maande gaan ons ’n terugblik verskaf oor berigte wat die afgelope 113 jaar verskyn het. Hierdie versameling word opgestel deur Annel Meyer, lid van die Albertonerfenisvereniging.
Vir enige inligting oor die Alberton-erfenisvereniging kan u Beverley-Ann Small by 011 869 9417 bel of ’n e-pos stuur aan info@albertonerfenis.co.za of info@albertonheritage.co.za. U kan ook vir Daan Grobler bel by 083 380 4072.
Verdere interessante wetenswaardighede oor die geskiedenis van Alberton kan u kry op die webblad albertonheritage.co.za of albertonerfenis.co.za.

Erelogo