Satire in die Suburbs

‘n Flêtskrien vir Kersfees

Deur Stefan van Niekerk7-stefan

Die begin van Desember is ‘n goeie tyd om Kersinkopies te doen, om die spens vol te kry, voor die winkels te besig raak. So het ek gereken.
Tot ek by die supermark instap en ‘n vrou met ‘n vol trollie om die hoek verdwyn met die laaste dosyn eiers op die rak. Al die rakke in die winkel was dolleeg, behalwe vir ‘n rak met duur, ingevoerde salm, wat niemand klaarblyklik aan wou raak nie. En een leë boks waarop daar in groot pienk letters “Barbie” geskryf staan. Sy het seker ook voete gekry. Glad nie beïndruk nie keer ek die eerste winkelassistent voor wat verbygedrentel kom en vra hom, waar is die brood? Waar is die kalkoene en die geblikte ham? Hy kyk my verbaas aan en sê, “hulle is almal laas Vrydag hier uit, meneer, op Swart Vrydag. So saam-saam.” Dit terwyl die klanke van Boney-M se “Little Drummer Boy” harder as gewoonlik deur die winkel weergalm, want daar is skielik leë rakke wat kan help met die weergalming. Hoe nou gemaak as Swart Vrydag jou hele Kersfeesinkopie-veldtog in die wiele gery het? Iemand sal seker gou weer brood bak en kalkoene sal seker weer van noord en suid ingevlieg word, maar gaan enigiemand dan nog geld oorhê om enigiets te koop? Dalk sal die winkels maar weer halwe brode moet begin verkoop en eiers in drieë. Dalk het die tyd aangebreek om Coke weer in 1.25 liter bottels te begin verkoop, en dalk moet die supermarkte agter in die store koeie begin aanhou waar jy vir jouself ‘n liter of twee kan gaan uitmelk. Om geld te spaar op verpakking, sien. Maar dan gaan die winkels speensalf ook moet begin aanhou want wat as die uiers speenontsteking kry van al die afslag-uitgemelkery? En voer. Speensalf en genoeg voer sal beslis op supermarkte se aankooplyste moet begin verskyn. Dis dalk makliker as ons volgende jaar seker maak elke Vrydag so na die einde van die jaar toe is ‘n gewone Vrydag, sonder om ingekleur te wees, net om seker te wees daar is nog ‘n paar rand in die hand om die nodige vir die feestydfeesvieringe te kan koop. Anders sit almal op Kersdag met ‘n fênsie nuwe flêtskrien tievie, maar met niks om voor die tievie te sit en eet terwyl jy op die nuus kyk hoe die klomp mense almal in mekaar vas swem op Durban se strande op Kersdag, nie.