Tanie Trixie se Tips

Hygend hert mense. Ek voel so verleë. Ek is mos ‘n vreeslike groot aanhanger van die pianis Charl Du Plessis. Ek het al sy cd’s gekoop. Toe hoor ek hy gaan by ‘n kunstefeeskompetisie beoordeel. Natuurlik is ek toe dadelik besig om my planne te maak, en toe die dag kom is ek en Gysie in die kar en reguit kunstefees toe.

Daar gekom gryp ek my pak cd’s en ons stap na die teater toe. Hoe nader ons kom hoe meer opgewonde raak ek. Met trots, en neus in die lug stap ek by die teater in. Ek kyk uit die hoogte af op die massas. En met my neus so hoog in die lug sien ek nie die klein trappie nie. Charl du Plessis sit onder by die tafel en gesels met ander aanhangers.

Vasberade stap ek vorentoe. Maar skielik is die vloer weg. Ek struikel vorentoe vasbeslote om my balance te hou. Ek gryp verlaas na ‘n stoel maar dit is te laat. Ek slaan daar neer sodat jy net stoele sien trek. Bene in die lug, handsak in die 7de ry, my cd’s oral. Bloedrooi in die gesig laat ek maar toe dat die mense my ophelp.
Dis toe wat ‘n jong meisietjie kliphard sê: “Daar val die tannie vir hom, en hy is heeltemal te jonk vir haar.” Ek is amper dood van die skaamte. Charl het so skelm geglimlag en ek het daar weggestorm.
Tip-Hou jou neus uit die lug sodat jou voete op die grond kan bly.