Tannie Trixie

Tannie Trixie

Hygend hert julle, die hond maak my klaar. Ons kry mos so 3 maande terug die klein worshondjie wat weggegooi is. Met my klein hartjie het ek dadelik die dingetjie aangeneem. En is hy oulik….of was hy oulik.

Ons is saam met die kinders restaurant toe ‘n maand na die brakkie se aankoms. Toe ons tuis kom, lê al die hangblinders op die grond, verskeur. Gysie het sò snaakse rooi geword, dat ek die dokter wou bel. ‘n Week later sien ek hy het die oulike hondedeurtjie morsaf gekou, en toe Gysie ‘n plankie oorsit kou hy die ook af. Toe drie weke terug is ons by die kerk die oggend. Terug by die huis sien ek die eienaardige toiings orald rondlê. Ek volg die spoor van toiings met ‘n yskoue hart, en ja, my pragtige persiese tapyt verwoes. En so wragtie waar, gisteraand ruk hy weer al die blinders af. Mense, Gysie word so boos hy vra die selgroep om te bid vir die hond. Volgens Gysie is die hond so toe hy moet soggens geopen word met skriflesing en gebed. Maar as die brakkie vir my kyk met sy donkerbruin oë, of in die laatnag onder die kombers inkruip en styf teen my rug lê, of so opgewonde is om ons te sien, vergewe ek alles.

TIP: ‘n Hond is soms stout, en duur, maar ‘n beter vriend kan jy nie kry nie.