Tannie Trixie

Tannie Trixie

Almal van ons het ‘n storie (of ‘n argief van stories) oor ons eerste motortjies. Ek onthou my vriendin op universiteit het ‘n kar gehad waarvan die venster uitgeval het toe ons dit wou afdraai op die snelweg. ‘n Ander vriendin se motor se ligte moes ons met ‘n tang aanskakel. Ek lees op Facebook nou onlangs van ‘n kewer wat twee maal gerol het en heel gaaf daarvan af gekom het.

Gysie se eerste motor het self ‘n paar verhale. Die een wat my lekker laat lag is toe hy pas in ‘n woonstel ingetrek het, waar daar egter nie spasie was om te parkeer nie.

Hy parkeer toe nou maar die motor op die sypaadjie. Op die eerste aand word die venster gebreek. Gysie besluit toe maar hy gaan nie die motor sluit nie, dan breek niemand ten minste die vensters nie.

Alles het goed verloop, tot hy eendag ‘n vreemde klankie opgetel het toe hy bestuur. Hy besluit toe hy gaan daardie aand die motor parkeer en by die venster uit kyk om te sien wat aangaan. Hier klim ‘n boemelaar in die motor en slaap net daar. Gysie se hart is eintlik sag, hy het besluit dit is maar reg om die mense in sy motor te huisves, veral gedurende die koue winter maande. Daar is altyd lugverfrisser.

TIP: hou altyd ‘n spasie oop in jou hart vir diegene wat dit nodig het, al ken jy hulle nie.