Tannie Trixie

Tannie Trixie

Tannie Trixie
Met die Olimpiese Spele wat nou plaasgevind het, kon ek nie help om terug te dink aan my eie dae as ‘n atleet nie. Ja – hierdie ronde lyf kon op ‘n stadium lekker hoog spring en vinnig hardloop! Die hoogspring het egter net gehou tot aan die einde van my laerskool loopbaan.
Dit was interhuis by die skool toe die ding my oorgekom het. Hoogspring was die finale item waaraan ek moes deelneem, alles het goed verloop en ek was gereed vir die storie. Omdat ons meisies glo nie so hoog soos die seuns kon spring nie, het hulle net een mat aan die ander kant van die lat geplaas.
Ek spring mooi bo-oor die lat, maar het met so ‘n spoed oor dit gegaan dat ek toe aan die ander kant van die mat op my kop te lande kom. Maar ek gaan aan. Hulle gaan haal nog ‘n mat. Ek spring weer en land met my kop mooi tussen die twee matte. Ten spyte van alles het ek met baie pyn die item klaargemaak, maar daarna kon ek nooit weer naby ‘n hoogspring lat kom nie.
Toe ek in standerd ses opdaag was die onderwysers baie opgewonde om my te laat deelneem. Vir een of ander rede kon ek glad nie meer hoogspring doen nie. Ek het probeer, maar elke keer wanneer ek moes spring het ek my bene opgetrek en soos ‘n eier probeer bo-oor spring. Dit was toe sommer ook die einde van hekkies.
Vandag kyk ek na die spele en verlang terug na die oomblik voor jy wegspring, wanneer jou bene in jellie verander. Ek mis dit, maar van hoogspring bly ek weg.
TIP: as jy ooit dink jou wederhelfte is die klits kwyt, onthou dat hulle dalk op hul koppe geval het jaaare terug.