Tannie Trixie se Tips

Tannie Trixie se Tips

Wanneer is jy te oud vir iets? En wie maak daardie besluit? Ek het die afgelope week baie daaroor nagedink, en ek het besluit dis sommer bog.

Soos Bryan Adams se liedjie sê, “Eighteen till I die!” Jy besluit mos hoe oud jy voel! Ek is agtien met ondervinding. Hoeveel ondervinding gaan ek nou nie uitlap nie, maar ek sal wel sê dat ek al baie van die lewe se sakke sout opgeëet het. ‘n Vriendin van my het ‘n paar dae na haar sestigste verjaarsdag ‘n tandem valskermsprong gedoen. Hoekom dan nou nie? Niks keer haar nie, en niks keer jou nie. Die vraag het by my opgekom na my kleinkind vir my gesê het dat sy nou te oud is vir ‘monster’ soentjies. Ek gryp haar altyd so om die lyfie en maak of ek haar nek opvreet. Daarna praat ek en my dogter so oor die gevliegery en sy sê vir my, “Ja jong ma, oudword is nie vir sissies nie.” Ek word g’n niks oud nie!

Die ou lyf verouder dalk, maar die verstand is nog skerp. So het ek nou besluit om vir die wêreld te wys dat oudword net ‘n mite is. Ek het nou begin stap elke Saterdag by Parkrun, ek swem by die gimnasium, ek doen joga elke Woensdagaand, en ek het vir my ‘n paar denims gaan aanskaf. Maar aan die plooie en grys hare het ek besluit ek doen niks. Dit dra ek met trots. Ek het selfs haarsalon toe gegaan om die laaste oorblyfsels van ‘n vorige kleursessie uit te wis en voluit grys te gaan. Die plooie is ‘n storieboek. Elke plooi vertel van ‘n skaterlag, ‘n tragedie, ‘n sorgelose vakansie, ‘n bekommernis oor ‘n siek kind. Die lewe ets homself in jou in. Ag, en oumas is mos veronderstel om plooie te hê. Oudword is ‘n geskenk, een wat nie almal beskore is nie. So gryp dit aan met albei hande, doen die dinge wat jy op jou kerfstok soek. Al dink iemand jy is te oud om dit te doen! Ek wil my lewe lank nog in ‘n lugballon gaan ry, so ek en Gysie gaan dit doen! Magaliesberg is mos nie ver hiervandaan nie. Tip: YOLO (You Only Live Once) – Maak die meeste daarvan.