Tannie Trixie se Tips

Ek kon nog nooit verstaan hoe Gysie so baie kan praat so vroeg in die oggend nie. Dit maak nie saak of ek nog halfpad – oTannie Trixief heeltemal aan die slaap is nie, hy babbel voort asof dit heeltemal normaal is om te begin praat die oomblik wat sy oë oopgaan. Wanneer het hy gedink aan al hierdie dinge om te sê? Het hy gedurende die nag wakker gelê en gedink hy moet vir my iets vertel sodra die son opkom? Droom hy goed en dan besluit hy ek moet dit hoor voordat die bure se haan kraai?

Soms maak ek eenvoudig net nie my oë oop nie, met die hoop dat hy gaan dink dit help in elk geval nie om verder te praat nie. Miskien werk ek sommer ‘n vinnige snorkie ook in, vir ekstra versekering. Dit keer nie die praat nie. Partymaal is hy gaaf genoeg om eers vir my ‘n beker boeretroos te bring voor die gesels begin – maar dan weet ek hierdie gaan ‘n lang, filosofiese gesprek wees van sy kant af – en ek gaan daar sit en teug aan my koffie, te lui om ‘n woord te sê.

Gelukkig dat daar iemand is wat hou daarvan om vroeg op te staan en die dag aan te pak, selfs al behels sy dag soms om homself tuis te maak voor die televisie en sport te kyk. Dit bied gewoonlik ammunisie vir die volgende vroeg-oggend gesprek oor hoe hy eintlik bly is dat die Springbokke weer verloor het, want so krap ‘n mens die wond oop en nou kan die afrigter dit gesond maak – of so iets.

Ten minste word daar nie van my verwag om aktief deel te neem aan hierdie gesprekke nie, en daarvoor sê ek dankie!

TIP: speel maar saam en maak asof jy luister na oggend-mense. Soms kry jy ‘n lekker koppie koffie uit dit uit!