Tannie Trixie se Tips

Hygend hert mensies. Die Gysie maak my klaar soms. Ek kerm nou al vir 3 weke dat Gysie die Kersversierings moet opsit. Hierdie jaar gaan my huis in die koerant wees as die mooiste kersliggiehuis in Alberton. Maar Gysie doen niks. Nou ken ek ook die man al goed en ek weet hoe om op sy gevoelens te speel.
So gister wag ek tot hy net lekker op die bank lê voor ek self na die motorhuis toe gaan en die versierings van die rakke afhaal. Ek los die binnedeur toe doelbewus oop en met elke boks steun en kreun ek vreeslik. Maar die man hoor niks. Dit kos my 4 bokse laat val en my mees benoude “eina!!!!!, help my” voor die man wakker skrik en my kom red. Vol verskonings vat hy toe dadelik oor sodat ek kan rus op die bank.
Soos die middag verbygaan sien ek die weer steek op. Toe Gysie met die leer verby stap raak ek bekommerd want die weer is naby. Maar sy skuldgevoelens dwing hom om aan te hou. Hy is ook net teen die leer op toe die weerlig die ou denneboom in die straat tref. Mense, die man gee net een sug “vat my Vader, ek is gereed’’ en net daar los hy die leer en val in die visdam dat jy net Koi en water sien trek. Nou hoe moet ek nou nie lag nie? Hy lyk so verbaas soos hy daar lê, want hy dag hy is oppad hemel toe en hier lê hy in die visdam. Dankie tog dis net sy ego wat seergekry het, veral oor ek harder gelag het as die storm.

Tannie Trixie
Tip: Luister as julle vrouens praat manne, en vroue, moenie die skuldgevoelens te veel dryf nie. En bly van die leer af in ‘n storm.